Wednesday, September 7, 2011

50 in Napoli (Naples)







Gister was dit toe die groot dag en WAT 'n ongelooflike lekker dag! Ons bly in 'n lieflike B&B teen die Bay of Napoli. Die weer is warm en die see is skitterblou - groot passasierskepe vaar in en uit oor die see. Die eiland Ischia troon bo die see uit op die horison en metro bote jaag in daardie rigting. More gaan ons op een van hulle klim na Sorrento waarna ons met 'n bus langs die Amalfi kus gaan afry na Ravello - klaarblyklik een van die mooiste kuslyne in die wereld.

Napoli is 'n vreemde stad - aan die een kant is die lieflike blou see met Vesuvius en Ischia in die agtergrond en die stad met sy vullisdromme wat oorloop, bottels en papiere wat orals rondle, vuil mure en die alomteenwoordigende graffiti. Pragtige beelde, kerkmure, piazza bankies en selfs rotse word nie gespaar nie - die spuitkannetjie het sy werk gedoen!

Woonstelblokke is pastelkleure hang teen die skuinstes en teen laatmiddag is dit die mooiste gesig! Die beelde in Hollywood flieks van nou straatjies, wasgoed en vryerige Italiaanse paartjies is hier die werklikheid. My nek is seer van opkyk na wapperende wasgoed oor balkonreelings en frescoes teen kerk plafonne. Italiaanse mans (veral in Napoli) is regtig aantreklik - bruingebrand, stoppelbaarde, donker oe en 'n onderlangse kyk - selfs teen die hoe ouderdom van 50 kry ek so 'n kyk!

Die oggend van my verjaarsdag is deurgebring in die nou strate van Napoli waar al my sintuie gestimuleer is - belissimmo! Laatmiddag (na siesta) het ek vir kilometers met D se fiets langs die see af gery en kort kort gestop om te kyk na die Italianers wat swem in die see of na 'n paartjie wat vurig vry op die rotse! Ek het natuurlik 'n ongelooflike gelato geniet - hier keer was die geur ricotta en pera (ja, kaas en pere!) - lekkerder as lekker!! Gisteraand het ons op die sypaadjie by 'n restaurant gnocchi en hoender met aubergine geeet - weer eens 'n gastronomiese hemel. Die witwyn was heerlik - droog en vrugtig (fruity). Die ander gaste by die restaurant was meestal Italianers en ons het ons verkyk aan hulle - hulle praat met drif en passie en met hulle hande. Ek sou nie se hulle is altyd vriendelik nie en lag nie sommer maklik nie, maar beslis met baie emosie. O ja, in hierdie chaotiese strate is die Italianers die vriendelikste, geduldigste motorbestuurders (of liewer, motorfiets). Hier is geen gemerkte lane nie en as jy links wil gaan, doen jy dit doodeenvoudig. Geen getoeter nie, geen geskree of vingerwys nie - jy ry net eenvoudig links en die motor agter jou, laat dit toe. Ek sou dit nie kon doen nie...
Hier is duisende klein motorfietsies (poegies) en jonk en oud ry daarmee. Dit is nie vreemd om pa, ma en kind op een motorfiets te sien nie. Klaarblyklik is dit maar vanaf 2 jaar gelede wat dit verpligtend is om 'n valhelm te dra.

No comments:

Post a Comment