Ek sit by 'n Ristorante Pizzeria by 'n tafeltjie wat uitkyk op die Piazza del Campo - die grootste en mees besondere plein in Italie (volgens my reisgids). Die plein waaier uit soos 'n groot skulp en word omring deur restaurante en winkels. Oorkant die restaurant is 'n Tabacchi waar bus- en lottokaartjies, die nuutste Vogue en kitch souveneirs onder een dak verkoop word. Skemeraand, nadat die winkels om 20h00 gesluit het, kom toeriste en Italianers in groot getalle by die restaurantjies eet of stap met 'n kind of hond aan die een hand en gelato in die ander hand oor die plein. Jong mense le uitgestrek op die naat van hul rue op die gladgeloopte rooi baksteen plein. Kameras se flitsligte gaan af en as jy oor die plein stap word jy sommer maklik deur 'n toeris gevra om 'n foto te neem. Die atmosfeer in die Piazza del Campo is lig en ontspanne. Dit is asof die Sienese die aande aangryp om die laaste somerhitte te geniet. Hier is geen graffiti soos in Napels nie, geen gypsies wat bedel soos in Rome nie, geen aggressiewe motorbestuurders nie want in die ou stad gedeelte word geen motors toegelaat nie. Ek vra myself af of dit is hoe 'n samelewing is waar almal genoeg het om 'n redelike bestaan te maak? Of is dit maar net hier in die ou stad waar plaaslike inwoners hul goeie voetjie voor sit vir toeriste? Dalk is dit heeltemal anders in die buitewyke van die stad waar die grootste gedeeelte van die inwoners in enerse hoe woonstelblokke woon.
Die poskaart prentjie wat ek van Toskane in my kop het, pla my nog steeds. Dit pla my ook dat almal wat ek ken dieselfde prentjie het en dat mense van regoor die wereld na Toskane stroom om dit te sien. Die impak van 'n fliek soos "Under the Tuscan Sun" moenie onderskat word nie. Dit is klaarblyklik feitlik elke Brit se droom om 'n vervalle huis in 'n olyfboord in die Toskane te besit. Die weer (soortgelyk aan Wellington in die somer) moet 'n groot aantrekkingskrag vir die Britte he. Dit is warm en dit is mooi, maar die Boland is (vir my) net so mooi indien nie mooier nie...
Ek bestel 'n Calzone (toegevoude pizza) en betaal E1,50 ekstra vir Buffalo Mozarella. Totale koste: E10,50 Dit is heerlik! In Naples (Napoli) kos 'n pizza tussen E5 en E8 by 'n restaurant wat uitkyk op die Bay of Naples en dit is die lekkerste pizzas wat ek nog in my lewe geeet het. Selfs die tamatie en basil proe geuriger as in Suid-Afrika. Napoli is die geboorteplek van pizza. Elizabeth Gilbert het Napoli se pizzas op die wereldkaart gesit in haar boek en fliek Eat Pray Love. Mense stroom na L'Antica Pizzeria da Michelle in Napoli (weer eens - die KRAG van bemarking!).
Aan die einde van my ete, hoor ek 'n mansstem sing - dit kom vanuit nou straatjie. 'n Paartjie stop in hul spore en draai hulle koppe in die rigting van die musiek. Nog iemand by die restaurant kyk op. Ek staan op en stap in die straatjie af - 'n man staan op sy balkon en sing - baie, baie mooi!
No comments:
Post a Comment