Ek het op 'n bloedige warm Sondagmiddag in Venezia aangekom per trein vanaf Rome (Roma). Met my swaar tas het ek by die stasie uitgestap en het byna in my spore omgedraai want 'n malende massa mense het tussen die kanaal en stasie gestaan en wag om kaartjies te koop vir die Vaporetto (Waterbus). Die stukkie grond tussen die Grande Canal en Venezia Santa Lucia Stazionne is nie baie breed nie en saam met die kokende son, het 'n onaangename reuk my getref. Ek het geen ander keuse gehad as om saam met swetende toeriste vanoor die hele wereld in die ry te gaan staan nie.
Drie dae later sou ek na my aankoms in Venezia terugkyk en lag want wat ek nie toe besef het nie is dat dit Sondag se 'daytrippers' was wat my in Venezia verwelkom het. Venezia is besig, maar darem nie elke dag so besig nie! Die weer het egter nie afgekoel nie en die humiditeit herinner aan Durban. Die nou gangetjies tussen geboue maak dit ekstra warm en dit is slegs op die oop see in die Vaporetto na een van die ander eilande wat ek afgekoel het.
Venezia is 'n onwerklike fantasiewereld en heeltemal uniek. Dit voel asof ek vir 3 dae weg van die aarde was na 'n wereld iewers tussen land en see. Die geboue lyk verweerd en uitgelewer aan die elemente, daar is geen verkeer nie slegs bote en gondolas. Die straatjies is kanale of klein gangetjies tussen geboue. Nerens is 'n stukkie gras te sien nie - die enigste groenigheid is plante in terracotta planthouers. Die stad is groter as wat ek verwag het en baie, baie besig. Toeriste oorstroom Venesie en dit is 'n Babelse gebabbel op die waterbus. Nooit het ek 'n woord Afrikaans of Suid-Afrikaanse engelse aksent gehoor nie, maar wel baie Amerikaanse aksente. Venesiese inwoners verdra die toeriste want hulle is afhanklik van hulle. Dit is duur om 'n huis in Venesie aan die gang te hou - verwering van eiendom, die instandhouding van die infrastruktuur, elektrisiteit is duur.
Ek het vroeg soggens opgestaan om deur die straatjies te stap voordat dit vol toeriste is. Die geboue het ekstra mooi gelyk in die oggendlig en ek kon nie ophou foto's neem nie - daar is die mooiste deure, vensters met hortjies en potplante, bruggies, die geboue wat weerkaats in die water, pragtige kerktorings, piazzas met fonteine, ens. ens. Venesiers se winkels sluit rondom 13h30 en maak weer 16h00 oop. Teen 18h00 is die nou straatjies vol Venesiers wat met hulle honde gaan stap (hulle tel die hondepoef op met 'n plastieksakkie), inkopies doen of gesels op die campo's. Slegs St Marks Square word 'n piazza genoem in Venesie. In ander Italiaanse dorpe word pleine 'piazzas' genoem. Dit is vir my te dierbaar om die ou mense te sien sit op die bankies, veral die mans - hulle gesels met woeste handgebare en lyk soos karikature in strokiesprente. As hulle klaas gesels is, groet hulle nie net met een 'ciao' nie maar 'ciaio, ciaio, ciao!!' 'n Italianer se ook nie een keer 'ja' nie, dit is 'si, si, si' en altyd 'prego' as jy dankie gese het.
Venesiers trek baie netjies aan en nie so informeel soos die Napolianers nie. Vrouens dra slooprokkies van linne wat bokant die knie sit met mooi sandale. Hulle is bruingebrand soos die meeste Italianers nou in die laatsomer is. Mans dra pastelkleurige of wit noupassende langbroeke met netjiese kraaghemde en leer loafers. Dit is net die toeriste wat T-hemde dra!
Die tipiese Venesiese man laat my aan 'n filmregisseur, advertensie agentskap direkteur of argitek dink - hare hang oor die kraag en is selfs soms in ln poniestert - veral die ouer mans.
Ek het 'n 3 dag kaartjie vir die Vaporetto gekoop en het menige ritte daarop meegemaak. Ek het so baie boot gery dat ek saans in die bed nog steeds gevoel het asof ek op see is - die bed het gewieg. My rit na Murano was 'n hoogtepunt in Venesie - seker omdat glas en pottebakkery baie dieselfde proses is. Daar is die mooiste, mooiste glaswerk - van reusagtige ligkandelare tot die mooiste bakke, base en juweliersware. Dit het my 'n halwe dag geneem om van winkel na winkel te stap om alles te besigtig. Die hoogtepunt vir my was Glasstress 2011 - 'n uitstalling wat deel vorm van Venice Biennale en waaraan baie kunstenaars deelgeneem het. Dit is kontemporere kunswerk en die uitstalling was gehou in 2 lokale - die een is op Murano eiland in 'n ou ongebruikte glass furnace waar die glasoonde nog staan en gesmelte glas in poele op die vloer le. Die ander lokaal was 'n lieflike marmergebou in Venesie wat deur die Dept Kultuursake as hoofkantoor gebruik word. Die gebou self is 'n kunswerk.... 'n Suid-Afrikaanse kunstenaar neem ook aan die uitstalling deel - Kendal Greers - my broken heart - glas 'batons' in 'n hart vorm.
Die gondoliers is gespierde, bruingebrande manne en dra oor die algemeen rooi en wit gestreepte hemde met 'n rooi serpie en strooihoed. Party van hulle het maar oes gelyk veral die ouer mans. Ek het gelees dat hulle baie duur is maar dit het nie juis gelyk of dit die Amerikaners weerhou het daarvan om hulle te gebruik nie.
Lido is 'n eiland wat binne 10 minute met die boot bereik word - hier is motors en motorfietse, parke en woonstelblokke. Dit is ook Venesie se strand (lido) en baie mense bly in hotelle daar en ry met die boot oor na Venesie.
My hotelletjie was goedkoop (E33 sonder ontbyt) en was baie goed gelee - slegs een straatjie weg van die Grand Canal en baie naby aan die Rialto brug. Dit was 'n ervaring om daar te bly - my kamer was soos 'n klein warm selletjie, geen lugversorger nie en ek kon elke woord hoor van die restaurantjie aan die oorkant. Een aand het ek wakker geword van iemand wat hamer aan 'n deur - 'n poging om 'n snorkende man stil te kry! Gelukkig het ek earplugs saamgebring....
Ek sal Venesie onthou as 'n droom water stad en die gevoel van onwerklikheid - so asof ek gedroom het en dit nie weer sal vind as ek dit soek nie!
No comments:
Post a Comment