Monday, September 19, 2011

Arezzo - die ware Toskane?






Dit bly my pla dat ek nog nie die poskaart mooi Toskane gesien het vandat ek hier is nie. Ek besluit toe om vanoggend 7h00 te stap na Piazza Napoleon, die hoogste Piazza in Florence vanwaar 'n mens 'n mooi uitsig oor Florence en die Toskaanse heuwels kry. Dit was toe ook so - baie mooi! Ek is egter op soek na die plattelandse Toskane, daardie prentjies wat 'n mens sien van sonneblomme, 'n ou vervalle huisie op àn heuweltjie omring deur goudgeel sonneblomme. My boek beveel 'n treinrit na Arezzo aan ek 10h30 is ek toe oppad vir die 45 minute rit. Die rit soontoe is deur verskeie tonnels en die landskap raak al hoe meer Toskaans soos ons nader aan Arezzo kom, maar die sonneblomme se koppe hang grond toe en ek moet my maar verbeel hoe mooi dit gelyk het 'n maand gelede. Dit moes skouspelagtig gewees het want daar is letterlik duisende van hulle. Ek stap van die stasie af in die rigting van 'n kerktoring en gou bevind ek my in die 'ou stad'. My reisgids praat van "crazy sloping Piazza Grande" en aangesien 'n donderbui kort tevore uitgesak het, moes ek maar versigtig oor die kobbelsteentjies van die piazza loop. Teenaan die piazza is oulike "artisan shops" - klein winkeltjies met oudhede, pragtige skryfpapier en 'n baie mooi keramiekwinkel. Ek verkyk my aan die beelde van St Catharina van Siena in die venster van die keramiekwinkel (closed on Mondays) en wens ek kon haar saamvat huis toe maar teen E1300 moet sy maar geduldig wag. Die straatjies is steil en ek stap deur 'n groot park wat omring is deur 'n muur - seker die ou stadsmuur. Dit is toe daar waar ek 'n glimps sien van die poskaart Toskane - die uitsig oor die vallei bokant die dakke van Arezzo is pragtig - rye olyfbome, wingerde, sipresse, netjiese plaashuise en bouvallige murasies.

No comments:

Post a Comment