Ek het met die trein vanaf Venezia na Ravenna gekry en die totale reistyd (wag vir 1 uur op Bologna) het 4h30 geduur. Dit was 'n mooi roete en ek het my verkyk aan die landskap - mielielande, boomryke heuwels, wingerde, sipresse. Dorpies met die namePadova, Abano, Monselice, Rovigo, Potengrosso en Ferrara het verbygeflits.
Die hotel was naby die stasie en ek het sonder moeite my tas tot daar gesleep. Die kostes was E45 met ontbyt ingesluit - baie billik. Aangesien ek eers 14h00 daar aangekom het, moes ek laat spaander na die mosaiek plekke. Ek het 'n boek gekoop waarin al die inligting oor Ravenna se mosaiek was en het na al die plekke gegaan. Ek sal later meer vertel oor die spesifieke mosaiek wat ek gesien het en al wat ek op hierdie stadium wil se, is dat dit werklik die wereld se Mosaiek Stad is. Dit is ongelooflik wat die mense in die eerste paar eeue na Christus (400-500nC) gedoen het om kerke te versier. Dit is ook vir my die wonder van mosaiek- en keramiekwerk - die aard van die materiaal is so dat dit vir eeue mooi bly - ongeskonde word dit bewaar vir die nageslag. Ek wou huil toe ek in daardie kerke sit en kyk na die mooi uitbeeldings van Bybelverhale. Dit het my net weer eens geinspireer om moeite te doen met mosaiek want dit is 'n besonderse manier waarop ons dit wat goed en positief is in die lewe kan uitbeeld vir ons nageslag.
Ravenna se ou gedeelte is verbode vir verkeer. Hier ry almal fiets - oud en jonk sonder die kompetisie van motorfietse en motors. Dit is prentjiemooi om 'n pa met sy 18mde oue seeuntjie op 'n fiets te sien of 'n ouerige dame, netjies aangetrek, hare gedoen en lippe rooi, jong meisies met ekstra kort broekies en bruingebrande bene en netjiese Italiaanse mans op pad terug na werk met 'n leersak oor die skouer. en ja, 'n meisie met haar hond aan 'n lyfband wat langs die fiets draf. Tussen deur stap vrouens met hul inkopiesakke haastig na werk huis toe, jong mense sit op die Piazza del Poppolo en eet 'n geroosterde panini (E3-50) Quattro Formaggi (3 cheeses). Twee jongmense soen mekaar innig - 'n omie by die tafeltjie langsaan praat met my in Italiaans en ek is so spyt dat ek nie in sy taal met hom kan terugpraat nie. Hy lig sy hand en glimlag en so is ons gesprek verby. Die enigste toeriste wat ek hier sien (en dit is MIN na Venesie) is middeljarige vrouens wat na die mosaiek kerke kom kyk het en hul rooigebrande, geduldige mans!
Die volgende oggend is ek met die trein vanaf Ravenna na Faenza spesifiek om na die International Museum of Ceramic Art te gaan. Ek het dit so beplan dat ek oppad na Florence by Faenza kan afklim en gou eers na die museum kan gaan. Soos met my hele reis, het dit ook hierdie keer so goed uitgewerk - die museum was slegs 200 meter vanaf die stasie en ek het maklik met my tas soontoe gestap. Die 2 ure wat ek daar deurgebring het, was elke sent en poging die moeite werd. Ek het gekonsentreer op die Italiaanse pottebakkersware (1200 tot noui) en het die majolikawerk van die Italianers baie geniet. Dit is baie mooi en volledig uitgestal vanaf die eerste werke in Faenza (sentrum en begin van Italiaanse majolikawerk) tot vandag se kontemporere werk wat nog steeds in daardie area gemaak word. Daar is ook 'n uitstalling op die oomblik aan die gang van 'n kompetisie vir jong keramiekkunstenaars - baie progressief en dit was veral 'n werk met 'n pvc kussing, gevul met water en honderde klein porseleinrosies waarvan ek gehou het. Bellissimmo!
Ry doelbewus skilderagtige roete (op internet gekry)met stadige trein wat dreun soos 'n trekker vanaf Faenza na Firenze (Florence). Die mooiste, mooiste landskap, klein dorpies met kastele bo op heuwels, bergagtig, wingerde, olyfbome teen skuinstes, tonnels, baie ruig plantegroei, dorpies met die name St Cassiano, Marradi, Biforco, Crespino del Lamonte, Borgo St Lorenze, San Marco Veccho. Ek is so moeg van al die lopery in Ravenna en Faenza dat ek met àn groot gesukkel my oe oopgehou kry om die mooi tonele te geniet.
Arriveer 14h17 in Firenze en ry met bus na Siena (70km). ek het gedink ek gaan sightseeing doen maar skaars buite Firenze was ek vas aan die slaap en het met àn seer nek in Siena wakker geword - vars en uitgerus. ek klim af by Piazza Gramschi en volgens die Hotel Alma Domus se instruksies is die hotel 200m vanaf die Piazza maar ek het geen straatadres of rigtingaanwyser nie. Dit is warm en my tas is swaar. Ek begin stap en vra later vir àn vrou wat vir my in die rigting van San domenico Kerk wys. Aangesien ek in àn klooster gaan bly, het ek gedink dit is dan seker reg. ek stap links om die kerk soos sy verduidelik het en moet die tas met groot moeite oor gruisklippe sleep. Die wiele wil nie rol nie en sukkelend kom ek by die groot hout deur aan. ek klop en klop en klop. Niks. Ek sleep die tas oor die gruisklippe met die kerk in die agtergrond teen die bult uit. Vies. Hygend kom en bo-op die bult uit en daar staan dit in groot letters geskryf: Hotel Alma Domus. Dit is die klooster St Catharina wat nou deur die nonne as 'n hotel bedryf word en dit is binne die muur wat die ou gedeelte omring, gelee. Geen motors mag hier inry nie en die straatjies en geboue dateer uit die Middeleeue. Prentjiemooi en by my blyplek. Wat meer kan ek vra? Die oulikste, lekkerste blyplek wat ek in die hele trip gehad het en slegs E45 met 'n groot ontbyt ingesluit. Boonop het my kamer die mooiste uitsig op die bekende Siena Duomo - ek kan nie ophou kyk nie en die klokke lui elke uur. 'n Lieflike rustige hawe vir die volgende 2 nagte. In my kamer hang 'n afdruk van 'n skildery met Maria en die baba Jesus. 'n Olyftakkie is bo dit ingedruk. In die sitkamer hang groot oorspronklike skilderye met 'n godsdienstige tema. Buite is 'n area met terracotta potte en rooi malvas. Hier sit mense en gesels - heelwat jongmense maar ook ouer mense soos ek. By ontbyt gesels ek met 'n man van Brasilie wat ook alleen toer.
No comments:
Post a Comment