Tuesday, September 27, 2011

San Gimignano - 16 September 2011








Siena - ek word 7h00 wakker van die gelui van kerkklokke wat vanaf verskeie kerke kom. Dit is baie lekker om so wakker te word en ek wens Wellington se kerkklokke kon meer gelui het. Verbeel ek my dat ek kerkklokke in Wellington hoor slegs wanneer daar 'n begrafnis is en Sondae? Ek le in my bed en kyk uit op die kerktoring van Siena se Duomo (Cathedral of Santa Maria Assunta)wat in die 12de gebou is. My kamera het reeds 'n paar dosyn kerktorings en klokke afgeneem!

Vandag besoek ek San Gimignano (40km vanaf Siena) per bus. Die kaartjie kos slegs E5,60 eenrigting. San Gimignano is Toskane se besbewaarde middeleeuse dorpie en word ook die middeleeue se Manhatten genoem vanwee sy baie torings. Volgens my bron was daar op 'n stadium 70 torings, simbole van 'clan rivalry and one-upmanship' en 'n teken van die dorp se rykdom voor die Black Death in 1348 feitlik al die bewoners uitgewis het. Die busroete gaan deur Poggibonsi en Colle Val d'Elsa sud, valerige Toskaanse dorpe met industriele gebiede soos wat ons dorpe ook maar het. Tussen die dorpe is egter wingerde, sipresse, olyfbome en natuurlik, sonneblomme met droe, hangende koppe.

San Gimignano sit bo op 'n koppie en van ver af kan die talle torings teen die blou lug as agtergrond, gesien word. Die dorpie word omring met 'n muur en het 4 ingange. Die eerste straatjie waarin ek opstap laat my dink aan Disney World - winkeltjies met tipies Toskaanse pottery, pasta in verskeie kleure, olyfolies en Chianti wyne, voorskote met pizzas en die Italiaanse kaart en ander souveneirs...ook baie toeriste. Gou is ek egter verby die hele spul en kies 'n paadjie na die "panoramic view". Dit is stil toe ek deur die ingang in die stadsmuur loop en die paadjie volg wat rondom die dorp langs die muur loop. Ek ruik sipres, hoor voeltjies en verkyk my aan die wye landskap daar ver onder. Dit is mooi.

Die res van die dag spandeer ek tussen die winkeltjies en kry waardering vir Toskaanse pottery. Majolica was nog altyd vir my mooi - 'n wit tinglasuur is die basis en dan word daar in hoofsaaklik blou, oranjegeel, geel en groen daarop geverf. Reuse borde, olyfbottels, teels, maskergesiggies omring deur vrugte, selfs 'n tafel en stoele gemaak van klei. Die pottery is regtig duur - 'n 'spoon rest' kos E12. Ek koop vir my 2 piepklein bakkies met vrugte daarop geverf. Ek besluit om slegs een keer toegangsgeld te betaal en my keuse is die San Gimignano Gallery of Contemporary Art - tot nou toe het ek nog net Italiaanse kuns van vervloe dae gesien en ken geen kontemporere Italiaanse kuns nie. Die fotografie van 'n plaaslike kunstenaar was vir my die hoogtepunt. Die gallery is in die ou Convent of Chiara - 'n rustige koel gebou met sipresse in die tuin.

Ek kon natuurlik nie anders as om 'n gelato op die Piazza del Duomo te geniet nie. Glo my, ek is nie die enigste swakkeling nie - die Amerikaners hou net so baie daarvan!

No comments:

Post a Comment