Tuesday, September 27, 2011

Rome - 1 September






My eerste kunsafspraak het ek op die internet van die huis af bespreek. Met kaart in die hand stap ek vanaf Hotel Katty na Galleria Borghese - ongeveer 3km. Dit is deksels warm en ek haas van skadukol na skadukol. Volgens my bron is dit een van die wereld se beste klein museums. Ses van Bernini se beste beeldhouwerke en Caravaggio skilderye word uitgestal saam met klassieke, renaissance and neo-klassieke werke. Die 17de eeuse villa is in die Villa Borghese park en het alles aan ene Cardinal Scipione Borghese behoort. Hy was 'n ywerige kunsversamelaar en het een van Rome se rykste en grootste kunsversamelings besit.

Oppad soontoe stap ek verby 'n moderne kerk met 'n pragtige mosaiek aan die voorkant - ek bars byna in trane uit - dit is so mooi! Die Borghese Galleries was oorweldigend mooi en die 2 ure wat ek daar deurgebring het (na 2 ure word die volgende groep ingelaat) was te min. My nek was styf en seer van opkyk na die frescoes wat in elke vertrek teen die plafonne geverf is. Danae van Correggio en Titian se Sacred and Profane Love was vir my die mooiste skilderye. Dit het my aan M laat dink - die skildery is vir 'n troue geskilder.

Asof dit nie genoeg kuns is vir die 1ste dag nie, het ek 'n kaartjie (oor die internet) gekoop vir Vatican under the Stars (slegs sekere Vrydagaande in die somer). Ek ry met die metro tot by Cipro en stap van daar af baie ver tot by die Vatikaanstad (50 hektaar - 550 inwoners en natuurlik - die pous). St Peters Square is indrukwekkend veral die pilare deur Bernini. In die lieflike laatsomer aandlug lyk alles natuurlik sagter, mooier. Ek neem 'n foto van 'n baie moderne monnik met sy swart lang jurk en gladgeskeerde kop. Hy loop oor die square met sy selfoon in die hand - om een of ander rede maak dit 'n indruk op my! Die Vatican Galleries is hopeloos te veel om in 2 ure te sien. Ek is mal oor die tapisiriee, kaarte van Italie, mosaiekvloer, marmer urns, beelde, ens.

Ek was gewaarsku dat die Sistine Chapel so vol toeriste gaan wees dat 'n mens skaars kan beweeg. Genadiglik het min toeriste besluit om in die aand daarna te kom kyk. Dit was vir my 'n geestelike ervaring. Ek is diep beindruk met Michelangelo se interpretasie van gedeeltes uit die Bybel. Die kleure is byna te helder - te veel gerestoureer? Die sagte aandlug help natuurlik ook om dit te "vergeestelik".

Ek word spoedig tot die werklikheid teruggeroep toe ek verdwaal oppad na die Metro en boonop by 'n man hoor dat die laaste trein binne 10 minute vertrek. My crocs word behoorlik ingelyf.

No comments:

Post a Comment