Kan dit wees - slegs een slapie oor en ek is oppad Italie toe?! My hele kamer is onderstebo - gladgestrykte klere in hopies opgestapel (waarvan die helfte nie die tas gaan haal nie), sambreel (Venesie se weervoorspelling wys donderbuie), oorproppe (goedkoop hotelle het dun mure), klein verkyker (vir die Sistine Chapel), 2 kameras (een moet by die huis bly), SAD Breakfast Booster, Nescafe koffie, Vitamien Booster (met Ginseng), crocs, ens ens. Dit is my vaste voorneme om lig te pak....die helfte sal maar by die huis moet bly!
Ek het Leonardo Da Vinci se biografie deur Charles Nichol so pas klaar gelees. Dit is 'n volledige oorsig van Leonardo, die mens en sy werke maar ook van die Renaissance tydperk. Leonardo het in 1460 as 'n tiener sy leerlingskap in die studio van Verrochio, 'n beeldhouer in Florence begin. Baie voorbeelde van sy werk of van werke waarmee hy gehelp het, is in Florence te sien. Ek het sommer dadelik oor die internet 'n kaartjie vir die Uffizi gallery in Florence gekoop. Volgens www.virtualtourist.com kan die rye by die Uffizi soms tot 3 uur lank neem as jy nie 'n kaartjie vooruit koop nie!
No comments:
Post a Comment