Kan dit wees - slegs een slapie oor en ek is oppad Italie toe?! My hele kamer is onderstebo - gladgestrykte klere in hopies opgestapel (waarvan die helfte nie die tas gaan haal nie), sambreel (Venesie se weervoorspelling wys donderbuie), oorproppe (goedkoop hotelle het dun mure), klein verkyker (vir die Sistine Chapel), 2 kameras (een moet by die huis bly), SAD Breakfast Booster, Nescafe koffie, Vitamien Booster (met Ginseng), crocs, ens ens. Dit is my vaste voorneme om lig te pak....die helfte sal maar by die huis moet bly!
Ek het Leonardo Da Vinci se biografie deur Charles Nichol so pas klaar gelees. Dit is 'n volledige oorsig van Leonardo, die mens en sy werke maar ook van die Renaissance tydperk. Leonardo het in 1460 as 'n tiener sy leerlingskap in die studio van Verrochio, 'n beeldhouer in Florence begin. Baie voorbeelde van sy werk of van werke waarmee hy gehelp het, is in Florence te sien. Ek het sommer dadelik oor die internet 'n kaartjie vir die Uffizi gallery in Florence gekoop. Volgens www.virtualtourist.com kan die rye by die Uffizi soms tot 3 uur lank neem as jy nie 'n kaartjie vooruit koop nie!
Twee jaar gelede het ek myself belowe dat ek my 50ste verjaarsdag in Italie, land van kuns en kultuur, sou vier. Na harde werk en sente omdraai, is ek oppad. Ek gaan blog oor my ervarings in Italie - die mense, kuns, kos, landskap - die lekker en die sleg van toer! My blog inskrywings sal in hotel foyers en internetkafees geskied en kan dalk sporadies gebeur...geniet dit saam met my!
Tuesday, August 30, 2011
Tuesday, August 23, 2011
Visum aansoek


Ek is vanoggend in gietende reen Kaapstad toe met my pakkie dokumente - een stel oorspronklikes en een stel afskrifte - presies net soos voorgeskryf deur die Italiaanse Konsulaat se webwerf. Om een of ander rede is ek erg gespanne - is dit omdat die kredietkaart staat in Afrikaans is? Dan sal ek maar net mooi verduidelik dat ek vir Absa gevra het vir 'n Engelse staat en toe moes hoor "the system doesn't allow it". Nou ja, ons hoop die Italianer het genoeg Kaapse afrikaans aangeleer om te sien die limiet op my kaart is voldoende om my 21 dae in Italie aan die gang te hou.
Die onderhoud wat ek reeds middel Julie gemaak het, verloop toe 'n volle 5 minute! Die enigste vraag wat sy my gevra het, was: "Will you be travelling on your own?" waarop ek mooitjies geantwoord het: "Yes, most of the time." Ek kon haar vertel het dat my man vir 7 dae saam met my gaan wees, maar het besluit sy kan maar gerus wonder wie "the rest of the time" by my gaan wees... Ek kan my paspoort Vrydag optel. Jippie!!!!
Op pad huis toe stop ek om (nog) 'n boek oor Italie te koop - hierdie een is oor Naples (Napoli).
Subscribe to:
Posts (Atom)